Besonderhede
Verwysingsnommer: 7810
Klaer: Boland Rugbyunie
Ingedien deur: Ivan Pekeur, president van die unie
Datum van publikasie: 8 Maart 2020
Aanlyn: Ja
Opskrif: Boland se klubs ‘betaal nou vir gelag’
Outeur van storie: Brenden Nel
Respondent: Alet Wichmann
1.1 Boland Rugbyunie (BRU) kla dat die volgende stellings in die storie feitelik verkeerd is:
1.2 Pekeur sê dié verslaggewing is skadelik vir BRU se beeld en belemmer sy kanse om borge te bekom. Hy vra vir ‘n regstelling en ‘n verskoning.
1.3 Die artikels in die Perskode waaroor gekla word, is:
2.1 Die storie sê die BRU se probleme het vermenigvuldig deurdat ‘n verdere vier werknemers ‘n klag van konstruktiewe ontslag teen dié unie by die Kommissie vir Bemiddeling, Versoening en Arbitrasie (KBVA) ingedien het.
2.2 “Dit kom nadat die BRU onlangs by die KBVA ‘n saak geskik het met ‘n oud-werknemer, Cliffie Booysen, en in die middel van ‘n arbitrasieproses is vir die onbillike afdanking-klag van sy gewese uitvoerende hoof, Cassie Carstens,” verduidelik die storie verder.
2.3 Nel berig volgens sy inligting moes die BRU die res van Booysen se kontrak uitbetaal. Hy skryf oor verskeie klagtes van die vier werknemers en eindig sy berig met ‘n stelling dat verskeie klubs ongelukkig was met die unie se verhoogde registrasiegeld.
3.1 Booysen se kontrak
3.1.1 Nel skryf: “Volgens Rapport se inligting moes die BRU die res van Booysen se kontrak uitbetaal”.
3.1.2 Pekeur sê dis onwaar.
3.1.3 Wichmann sê die koerant se inligting kom van ‘n betroubare en ingeligte bron. Hierdie persoon wil anoniem bly. Sy voeg by dat die ombud ‘n gesprek met dié bron kan hê, sou dit vereis word. Sy bied ook aan om Pekeur se ontkenning van hierdie stelling te publiseer, sou hy op die koerant se navrae reageer.
Ontleding
3.1.4 Nel het dit nie as ‘n feit gestel dat die BRU die res van Booysen se kontrak uitbetaal het nie – dit was duidelik die inligting wat die koerant ontvang het. Die saak was in die openbare belang en die joernalis het die reg gehad om daardie inligting as ‘n bewering te publiseer.
3.2 Dreigement oor ‘bedrog’
3.2.1 Nel skryf: “Pekeur (het werknemers) glo gedreig dat hy hulle gaan aankla van bedrog vir vervalste oortyd”.
3.2.2 Pekeur sê die werknemers het reeds op 13 Desember 2019 met verlof gegaan. Hulle het ook deur hulle vakbond die unie ingelig dat hulle nie beskikbaar was vir werk gedurende Desember 2019 nie.
3.2.3 Wichmann wys daarop dat die storie nie hierdie bewering as ‘n feit gestel het nie. Sy sê die inligting kom uit ‘n KBVA-klag wat deur die werkers ingedien is. Sy voer aan dit is vir die KBVA om te besluit oor die meriete van die klag. Sy sê ook die koerant sal Pekeur se kommentaar oor hierdie saak plaas, sou hy op navrae reageer.
Ontleding
3.2.4 Die volgende sin kom in die KBVA-klag voor: “…the President of the Boland Rugby Union threatened Mr Brand and the workers, with fraud charges for supplying false information.”
3.2.5 Die konteks van hierdie bewering is net so belangrik as die teks self. Nel het seker gemaak dat lesers die konteks behoorlik begryp deur te skryf: “Volgens die klagte…beweer die vier werknemers onder meer…” (my onderstrepings), waarna hy oor die betrokke sin berig.
3.2.6 Vir ‘n redelike leser behoort dit duidelik te gewees het dat die bewering van die werknemers afkomstig was, en dat die waarheid daarvan nog nie vasgestel was nie.
3.2.7 Kudos aan Nel.
3.2.8 Die koerant het boonop duidelik verstaan dat hy nie ‘n mandaat het om oor die waarheid van die stelling te besluit nie – dit is die KBVA se werk.
3.3.1 Die storie sê; “Daarna (ná die bedanking van werknemers) is hulle glo deur Pekeur ingeroep en geld aangebied om hul bedankings terug te trek.”
3.3.2 Pekeur sê die werknemers het wel by geleentheid aansoek om skeidingspakkette ingedien – dit is die geld waarna hy verwys het en nie omkoopgeld nie, “soos Rapport berig”.
3.3.3 Wichmann sê die storie het nie die woord “omkoopgeld” gebruik nie. Die betrokke bewerings kom in die KBVA-klag voor. Sy herhaal dat die koerant Pekeur se kommentaar hierop sal publiseer, sou hy op navrae reageer.
Ontleding
3.3.4 Die volgende sin kom in die KBVA-klag voor: “After the resignations were submitted some of the workers were called into the office of the President of the employer and offered money to withdraw their resignations.”
3.3.5 My beoordeling van hierdie aspek van die BRU se klagte is presies dieselfde as bogenoemde.
3.4 Ongelukkigheid oor verhoogde registrasiegeld
3.4.1 Nel het berig: “Intussen is daar onder die Bolandse klubs groot ongelukkigheid oor verhoogde registrasiegeld… Van die klubvoorsitters met wie Rapport gepraat het, meen dit (die verhoogde registrasiegeld) is onbillik, veral omdat die BRU nog nie finansiële state voorgelê het nie.”
3.4.2 Pekeur sê dié stellings is onwaar – verskeie klubs het reeds hulle registrasiegeld vir 2020 betaal, terwyl ander klubs navraag doen of hulle kan voortgaan met betaling, aangesien geen rugby tans gespeel word nie. Hy sê die gebruik van die meervoud (klubvoorsitters) is daarom verkeerd en misleidend. Hy sê slegs Velddrif RK het in die media hul ongelukkigheid met verhoogde registrasiegeld uitgespreek.
3.4.3 Wichmann sê dit is waar dat slegs een klub in die openbaar kapsie gemaak het – maar die koerant het met vier ander voorsitters gepraat, wat almal ongelukkig was oor dié saak. Sy argumenteer dat die betaling van registrasiegeld nie noodwendig beteken ‘n klub is tevrede daarmee nie.
Ontleding
3.4.4 Die stelling dat klubs ongelukkig was oor verhoogde registrasiegeld is redelik moontlik waar. Die feit dat net een klub sy ongelukkigheid daarmee in die openbaar te kenne gegee het, beteken inderdaad nie noodwendig dat almal daarmee tevrede was nie.
3.4.5 Ek het geen rede om Wichmann se stelling oor vier ander voorsitters te betwyfel nie.
3.5 Algemene opmerking
Ek bevind in die koerant se guns, hoofsaaklik omdat die:
Die klag word van die hand gewys.
Appèl
Die klaer kan binne sewe dae ná ontvangs van hierdie bevinding aansoek om appèl doen. Rig sodanige skrywe aan die voorsitter van die Appèlkomitee, regter Bernard Ngoepe, en sit die gronde daarvan volledig uit. Hy kan by Khanyim@ombudsman.org.za gekontak word.
Johan Retief
Waarnemende Assistent-persombud